Revolusie van Brumaire

Napoleon by 18 Brumaire

Die revolusie van Brumaire of staatsgreep van 18 Brumaire het generaal Napoleon Bonaparte aan die bewind gebring as Eerste Konsul van Frankryk en volgens die mening van die meeste historici het die Franse rewolusie tot 'n einde gekom. Hierdie bloedlose staatsgreep het die Direktoraat omvergewerp en vervang deur die Franse Konsulaat. Dit gebeur op 9 November 1799, wat 18 Brumaire, Jaar VIII was onder die esoteriese en kortstondige Franse Republikeinse kalendersisteem.

Daar was verskeie redes waarom die Franse volk die jong generaal, wat enkele jare tevore die Oostenrykers in Italië so 'n swaar nederlaag toegedien het, met soveel geesdrif ontvang het. Frankryk se grense was weer in gevaar. Ten tyde van Napoleon se afwesigheid in Egipte is Switserland, Rome en Napels deur Franse troepe beset. Die Britse regering onder Pitt het saam met Rusland en Oostenryk 'n verbond teen Frankryk gevorm. Die Russiese aanvoerder Soewarof het die Franse leërs uit Italië verdryf en, in samewerking met die Oostenrykers, op die punt gestaan om Frankryk binne te val.

Die Direktoraat, wat sedert die Franse Revolusie die land bestuur het, was ongewild en sy regering ondoeltreffend. Die Franse volk het honger gely en was nie beter daaraan toe as voor die Revolusie nie. Hulle was siek en sat vir oorlog. Die volk het dus die hoop gekoester dat Napoleon die aanvalle van buite sou kan afslaan, die binnelandse wanorde beëindig en 'n doeltreffende regering saamstel. Toe Napoleon in Parys aankom, het hy gevind dat daar verskeie mense was wat bereid was om met hom saam te smee om die Direktoraat omver te werp.

Veral Siéyès, een van die Direkteure, het gehoop dat hy Napoleon se aansien en mag (Napoleon het volkome beheer oor die leer gehad) kon gebruik om aan die bewind te kom. Siéyès het sy planne so beraam dat die twee wetgewende rade, die Raad van Ouderlinge en die Raad van Vyfhonderd, op 'n sekere dag na St. Cloud, buite Parys, moes kom. Daar moes Napoleon se leer hulle dwing om 'n nuwe grondwet, wat al die mag in die hande van drie Konsuls sou plaas, te aanvaar.

As Konsuls sou optree hyself, sy beskermling en mede-Direkteur Ducos, en Napoleon. Siéyès het gemeen dat hy Napoleon sommer oor 'n paar onbelangrike staatsdepartemente sou aanstel. Die dag wat vir hierdie belangrike vergadering bepaal is, was 9 November 1799, of soos dit in die Franse kalender van na die Revolusie bekend was, 18 Brumaire. Napoleon het albei rade toegespreek en die bestaande grondwet hewig aangeval. Die lede van die Raad van Vyfhonderd het egter, uit vrees vir sy diktatoriale ambisies, probeer om hom te lyf te gaan en hy was verplig om die raadsaal te verlaat.

Karl Marx, 18 Brumaire

Gelukkig vir Napoleon het sy broer, Lucien, voorsitter van die Raad van Vyfhonderd, tot sy redding gekom. Hy het tevergeefs probeer om die Raad tot orde te roep. Nadat hy sy swaard teen Napoleon se bors gedruk en gesweer het dat hy hom sou doodmaak as hy (Napoleon) ooit die vryhede van die Franse volk sou skend, het hulle besluit om die leër in te roep om die orde te herstel. Dit het die lede van die twee wetgewende rade laat besluit om maar liewers die drie Konsuls te erken en die ou grondwet van 1795 deur 'n nuwe, bekend as die Grondwet van die Jaar VIII, te vervang.

Die grondwet het die uitvoerende gesag aan die drie Konsuls toevertrou, wat hul amp tien jaar lank sou beklee. Napoleon het homself byna onmiddellik tot Eerste Konsul laat verklaar. Die ander twee Konsuls moes hiermee genoeë neem, want Napoleon het oor ʼn troefkaart in die vorm van die leër beskik. Die nuwe grondwet is kort daarna met 'n oorweldigende meerderheid in 'n volkstemming aangeneem. Napoleon het as Eerste Konsul die ministers, diplomate, offisiere, regters en baie amptenare self aangestel en sodoende alleenheerser oor Frankryk geword.


Developed by StudentB